Wednesday, January 31, 2007

'n Laaste kiekie

Hierdie is nie regtig 'n inskrywing nie, net 'n laaste foto van my in die sneeu voor die plek wat vir 'n maand lank my huis was. 2300 South Fillmore Street, Denver, Colorado, USA...



Tuesday, January 30, 2007

Laaste dag

More laat ek die sneeu en ys en poefdoeke agter. Maats, ek is liberated...

Maar 'n dag soos vandag laat my aan al die ander laaste dae dink. Jou laaste dag in die skool, jou laaste dag in die koshuis, jou laaste dag op 'n kamp, naweek of roadtrip, jou laaste dag by 'n sekere werk of jou laaste dag in jou land.

Dan is daar die laaste dae wat nog kom...

Die laaste dag voor jy jou eie besigheid begin, die laaste dag voor jy trou, die laaste dag wat jy geliefdes sien en uiteindelik die laaste dag wat jy lewe.

Die punt is egter nie die laaste dae nie, maar die eerstes wat op al die laastes volg! Mag jou eerstes jou laastes heeltemal oorskadu!!

Monday, January 29, 2007

Die ander kant van die pad

In Brittanje, Suid-Afrika, Australië en ander voormalige Britse kolonies ry 'n mens aan die linkerkant van die pad, jou stuurwiel is aan die regterkant van jou kar en jou spoed en afstand word in kilometers gemeet. In die VSA is dit alles andersom. Watter kant is die regte kant? RegteRkant? Neewat, dit is nie 'n debat waarin ek wil betrokke raak nie...Ek weet net ek bevind myself aan die ander kant van die pad...
Dit behels die oormatige gebruik van ander mense se toeters, die skuif van spieëltjies en uiterste konsentrasie ("Sorg net dat JY (as bestuurder) in die middel van die pad is")...
Jip, ek is besig om my bestuurservaring in die sneeu aan die ander kant van die pad in myle op te doen. Geen ongelukke tot dusver nie, though, touch wood...

PS: Sedert die skryf van die eerste helfte van hierdie blog het ek my eerste ongeluk gemaak... Nie op straat nie, nee, ek het (met die kind in my arms) 'n verdieping ver van die trappe afgebliksem!!! Geen skade aan hom, bloukol-galery vir my... Lag en lag klaar:-)

Friday, January 26, 2007

Sommer net

Aangesien ek more die berge invaar en vir twee dae nie gaan kan blog nie, laat ek julle met die lieflikes, lyflikes, dierbares en drolle van Prison Break... Mag jy hulle nie ontsnap nie:-)


PS: Beste flieksoen OOIT!!!!! Jennifer Garner & Timothy Olyphant! (Ek vergewe hom sy van want hy is wonderlik genoeg!)

Teletubbies...

Die volgende dialoog is 'n uittreksel uit van die fantastiese, verrrykende kindertv waarmee ek myself deesdae vermaak...


(SETTING: Drie van die Teletubbies, TinkyWinky, Dipsy en Lala, sit en Tubbie-custard eet langs 'n krummelrige bruin gemors...)


NARRATOR: One day in Teletubbie-land someone ate their Tubbie-toast (???!!!) near the controls and made a mess... TinkyWinky didn't do it

TINKYWINKY: TinkyWinky didn't do it

NARRATOR: Dipsy didn't do it

DIPSY: Dipsy didn't do it

NARRATOR: Lala didn't do it

LALA: Lala didn't do it

NARRATOR: Who did it?

AL DIE TUBBIES: Who did it?


NARRATOR: One day in Teletubbie-land someone ate their Tubbie-toast near the controls and made a mess... TinkyWinky didn't do it

TINKYWINKY: TinkyWinky didn't do it

NARRATOR: Dipsy didn't do it

DIPSY: Dipsy didn't do it

NARRATOR: Lala didn't do it

LALA: Lala didn't do it

NARRATOR: Who did it?

AL DIE TUBBIES: Who did it?

NARRATOR: One day in Teletubbie-land someone ate their Tubbie-toast..

STEMME IN MY KOP: PO DID IT!!!!! DIE BLIKSEMSE ROOI KLEIN STRONT DID IT!!!!!!!


PS: Baie geluk aan Ellen DeGeneres, my nuwe favourite talkshowhost (en host van die Oscars hierdie jaar!!!) wat vandag haar 49ste verjaarsdag vier...

Thursday, January 25, 2007

Chuck E. Cheese




Oftewel Chucky Cheese soos wat ek in my Suid-Afrikaanse onskuld gedink het 'n mens dit spel. Nee, mense, dit is 'n muis genaamd Chuck met 'n ekstra voorletter, E. Soos Magrietha M. Stander... Belaglik.


Anyhow, dis kinder-hemel (grootmens-hemel ook as jy die pizza tel). Elke ride en rekenaarspeletjie waaraan jy kan dink kos 'n quarter-token elk. Jy kan foto's neem (soos julle kan sien het die uwe spesifiek besonder pret met die foto-nemery gehad) en op 'n klimraam (plastiekspek-loos hierdie keer) rondklouter - alles op die maat van I Want You To Want Me gesing deur 'n muppet in hakskoene...


... jip, welcome in America!!!

Wednesday, January 24, 2007

Die ding is...

Die ding met sneeu is...
... dit is ys ook (ek het al 'n rekord aantal kere plat op my gat geland)

Die ding met dollars is...
... dit is rand ook (en 'n hele sewe daarvan)

Die ding met plastiek spek is...
... (ja, dit bestaan!!!!) dit is 'n klimraam ook

Die ding met Jude Law is...
... ... ... ...

Nee wat, ek laat dit maar aan julle verbeelding oor. Gaan kyk The Holiday, 10 punte vir Mr. Law as 'n tranerige Britse pappie:-)

Sunday, January 21, 2007

Die Ewige Drenkeling


Kom ons praat oor pragtige, dierbare Kevin Costner se geneigdheid om te verdrink...


Wie sal ooit die dramatiese lewensreddende tonele aan boord van die Catherine aan die einde van Message In A Bottle vergeet waar onse held Kevin die tydelike vir die ewige verruil in 'n giggelgeel reënjas? Of meer onlangs, in die Titanic-vir-mans-metAshton-Kutcher-as-Rose, The Guardian, waar Mnr. Costner skoon be'gees'terd raak na sy verdrinking? Daar is ook, as jy jouself so ver kan laat terugdink, die geveg in die water in Dances With Wolves en die ge-kaalswemmery in Robin Hood Prince Of Thieves. Toegegee, hy't nie in die laaste twee actually verdrink nie (hulle word eerder gekenmerk deur die tentoonstelling van 'n welgevormde maar spierwit agterstewe), maar kan iemand die man nie net uit die water hou nie?!!


En dan tref dit my soos 'n emmer, umh, water...

Kevin Costner moes 'n vis gewees het! Dis somebody say Waterworld?? :-)
PS: As julle dit nou nog nie agtergekom het nie, ek laaik dit om pictures te insert...

Die Matthews

Voor jy verder aan hierdie blog lees wil ek die manne waarsku dat dit wat hulle hier gaan vind, nie noodwendig vir hulle aptytlik gaan wees nie...

Dames, vandag wil ek graag met julle die Matthew-fenomeen bespreek. Ek praat nie nou van die Engelse Bybelboek of Liewe Heksie se kat (sou hy Brits raak) nie, maar regte, egte vleeslike Matthews wat hierdie wêreld 'n beter plek (vir vrouens) maak...




Eerstens 'n huldeblykie aan die Matthew wat hierdie inskrywing geinspireer het. Matthew Goode (foto heel hiernaas). Meisies, hierdie Britse oukie is nou maar eenmaal asembenemend pragtig. Die foto doen hom nie justice nie. Sien MATCH POINT en CHASING LIBERTY (laasgenoemde net as jy vir Mandy Moore kans sien) vir verdere bewyse.






Die volgende Matthew is natuurlik die nimlike Matthew McConnaughey. 'n Mens kan hom sy Sahara-foutjie vergewe vir die uittrek van daardie T-Shirt in How To Lose A Guy In 10 Days. (It feels like home to me too, Matthew...:-)






Laaste, maar allermins die minste, Matthew Perry!!
As julle my profile op die blog gelees het, weet julle reeds hoe ek oor hierdie Matthew voel en die allewige FRIENDS re-runs op al wat Amerikaanse TV stasie is hou my gelukkig. Een kyk na hierdie (of die ander twee) Matthews en dit voel of die minste is wat ek kan doen is om elkeen van julle 'n Matthew-gevulde lewe toe te wens. Hoekom? Want HULLE is wonderlik genoeg!

PS: Voel vry om my van enige Matthews wat ek vergeet het te laat weet!!! Hoe meer Matthews, hoe beter...

Sondagoggendsneeu

Die sneeu val buite aanhoudend en sag soos motreën - dis net kouer as wat motreën ooit sal wees:-) Ek hoor dat daar op die Suid-Afrikaanse nuus verkondig word dat 'n groot deel van die Amerikaanse mid-west (waar ek my tans bevind) toegesneeu en sonder elektrisiteit is. Eersgenoemde is wel waar, laasgenoemde gelukkig nie - anders sou ek nie nou hierdie inskrywing kon maak nie, ne!
Die skuif van die warm Suid-Afrikaanse somer op 'n dorpie nie te ver bo seevlak nie, na die sneeubedekte Denver ('n hele myl bo seevlak, vandaar die naam Mile High City) het sy tol geëis en ek het verkoue - in 'n huis skynbaar sonder tissues!!
Dus, met 'n rol tioletpapier byderhand, sê ek vireers totsiens...

Saturday, January 20, 2007

Saligheid


saligheid is...


... die gesin wie se kleuters (op die foto) jy oppas wat vir die naweek weg is
berge toe SONDER jou

... e-mails van Makkie

... BeauJo's (Colorado style pizza) leftovers


Jip, maats, ek het 'n naweek net vir myself en my leftovers terwyl dit onder vriespunt buitekant is. Wat word van die wêreld as doit is waaruit saligheid vir 'n mens bestaan? Waardeer die klein salige dinge, maters, die grotes is nie altyd bereikbaar nie...:-)
'n Spesiale geluk aan my ma en Melgaard wat albei vandag verjaar...

Thursday, January 18, 2007

Bloggeroonie


'n Hallo aan alle dierbares, belangstellendes, geforseerdes en blote nuuskieriges...


Jip, die oomblik waarvoor almal gewag het (of nie gewag het nie:-)) het aangebreek!! Ek betree die wonderwêreld van bloggers. Al wat dit beteken is dat ek kan speel ek is 'n skrywer en elke dag of eenkeer 'n week of eenkeer 'n maand al die nonsens in my kop op die internet publiseer. En in Afrikaans!!!! Elke Jan Rap en sy maat sal verstaan maar ek het nie veel hoop vir Tom, Dick en Harry nie - al is Harry so 'n goeie seun!


Ter ere van die Roonie-taal wat die afgelope twee jaar in kamer 410 in JASMYN, Tuks se dameskoshuis met persoonlikheid, styl en trots, ontwikkel het noem ek hierdie eerste inskrywing: Bloggeroonie...


Ek stig my blog vanuit 'n koue, sneeubedekte Denver, Colorado, VSA terwyl die verkoue neig om oor te neem. Hoekom? Want ek is wonderlik genoeg!